Die Republiek van SKYT AFRICA
Hi Almal,
Ek lees graag fiksie, dit is vir my n lekker goedkoop tydverdryf, bygesê goedkoop indien ek n tweedehanse boekwinkel raakloop. Nuwe boeke is ietwat bokant my beskeie begroting. Alhoewel ek nie n slaafse aanhanger van Facebook is nie, spandeer ek soms tyd op Facebook. Ek is meestal wat geklassifiseer sal word as n roofkyker, sien baie en sê liewers niks wat op baie van die blaaie seker die veiligste is. Baie mense kan verdomp venynig raak as hulle agter die anonimiteit van n sleutelbord inskuif.
Daar is sommige DC’s wat nuttige Facebook blaaie het waar die publiek vrae kan stel en kundiges gee dan raad. Wat baie interessant is, is dat daar n toename is aan mense wat ontevrede is oor die skuldberadingsproses en dan keel skoonmaak. Die volgende kom duidelik na vore – hulle wil nie meer met hul huidige DC praat nie. Dit is asof hulle n ander platform soek wat hulle n ander antwoord gaan gee as wat die huidige DC hulle gee.
Hulle is opsoek na n antwoord wat hulle pas en nie die feite nie, amper soos n kind wat eers vir Ma vra en as sy nee sê dan word Pa dieselfde vraag gevra, soekende na n antwoord wat hulle tevrede sal stel.
My raad is die volgende: Onthou die omstandighede, veral die finansiële omstandighede, toe jy onder skuldberading gegaan het. Skryf neer alles wat op daardie stadium soos n berg voor jou gelê het, die oproepe van skuldeisers, die leë koskaste , die argumente en die slaaplose nagte. Hoekom al hierdie dinge na skaars n jaar vergeet en nou skuldberading en jou DC as die swakste ding sedert die Gupta’s uitmaak? Is die geheue werklik so kort dat hierdie einste proses wat jou gemoedsrus gegee het nou ewe skielik nie werk nie? Niemand het belowe dat dit n maklike proses gaan wees nie maar daar was ook van jou verlang van jou om jou bydrae te lewer. Jy is uit die aard van die saak in beheer van jou spandeerbare inkomste en die enigste manier hoe om so gou as moontlik die proses te verkort is om so veel as moontlik aan jou skuld af te betaal. Daardie verhoging, bonus, belasting teruggawe of enige ander gelukkie moet nie dadelik gatsak toe gaan nie. Jy gaan aan n duisend verskonings dink waarom daardie fondse nie op skuld betaal hoef te word nie, gaan dan gerus terug na alles wat jy neergeskryf het en herbesin.
Indien jou DC jou jaarlikse hersiening doen hou jou lysie bederhand, dit sal jou help om nie aan alle onsinnige redes dink om nie jou paaiemente te verhoog nie. Of jy dit nou wil weet of nie die finansiële instelling wat jou skuld gegee het wag vir n rede om skuldberading te beëindig sodat hulle kan stappe neem.
Dus in antwoord op al die vrae of jy vinniger die skuldberadings proses kan beëindig? Beslis, betaal getrou en verhoog jou paaiemente en verminder jou verskonings.
Groete, Christo
Reference: https://www.linkedin.com/in/christo-hattingh-351a52130/